Dis Storie tyd!

 En toe gebeur iets vreesliks!!!


Dit was 29 September 1969 en so tien uur die aand. Die aarde ruk en skud, twaalf sterf en vele geboue daar mee heen.

Kom terug drie dae later met die trein om weer skool te gaan in die stad en die trein stop in Wolseley se stasie. Al wat oor is was hope bakstene!

Oral op die berg is sulke wit strepe soos die klippe los gebreek het en toe afrol. Nou vir julle nie wetenskaplike tipies, die Kaapse berge is gemaak van kwartsiet wat sulke klein silikon oksied kristalletjies is. As jy dit teen mekaar kap sal die vonke spat, so daar was vele veldbrande.

Ai en op die punt van Saronsberg draai sulke wolke wat jy van Kaapstad af kon sien. Chaos breek los!

Die opposieleier was Sir Div Graaff en hy skree op ou John Vorster, die eerste minister, "Die berge gaan ontplof en vuurspuwende berge is by ons, julle dom Natte doen weer niks!"

Die SAP koerante sit dit op die voorblaaie oor hoe pateties die regering alweer is.

Arme Doktor Theron, dierbare ou wat jare later my baas by die Departement van Mynwese was, klim die duisende meter van onder tot bo, neem fotos van die warboel, en strompel weer af waar die bende joernaliste hom in wag. Jy maak sy kamera oop, pluk die Kodakchrome film uit en gooi die Argus en Times se groot monde daarmee!

Wat is op die fotos? Presies wat hy vooraf vir hulle vertel het, brandende takke!

Wat leer ons, fopnuus sal altyd met ons wees, kry die feite voor ons reaggeer. 


Voshaar Meisiekind

VDS Brink 

 Die woorde “Voshaar”, “Bella”, “Natrossies” en “Waboomskloof” gekry van die wondergedig van Boerneef en die lied van Louis van Rensburg, “Voshaarnooi.


Koos se Prado stop stadig voor die opstal. Die son sak al oor die groot Winterhoekberge, Pieter en Annemarie stap vinnig uit, “Hallo Pappa!”

“Dag my liewe kinders!” Die drie druk mekaar.

“Dankie dat Pappa vir haar vir die naweek gebring het. Dis net onmoontlik om nou in die skeertyd weg te kom.”

“Dit is my grootste voorreg,” Koos maak die agterdeur oop, “Kom my kindjie.”

Lydia kyk diep in sy oë, “Dankie Oupa, ek is so lief vir oupa!”

Annemarie tel haar op en Pieter vou sy arms om haar. Koos staan terug, hy haal sy sakdoek uit as hy na die kaal koppie kyk. Die pragtige voshaartjies het nou amper almal uitgeval.

“Matrone en dokter sê sy is rustig. Sy het al die pille saam gegee en ook vir die naarheid. Annemarie, sy sê jy kan maar lekker kook vir haar!”

Lydia neem haar kruk en stap stadig saam met haar pappa en mamma na die huis.

 

“Pasop!!” skree Pieter. Boela storm om die huis reg op Lydia af, sy dik stert swaai heen en weer en hy spring op en af! Kasper kom by die voordeur uit en begin voor haar rol. Almal wat vir haar lief is, is nou hier en Lydia lag en lag.

Hulle sterte staan nou penorent!

 

Die heerlike ete by kerslig, “Nou ja dis tyd om te gaan inkruip. Lydia, druk net die knoppie langs jou bed en ek is dadelik daar.”

“Goed so mamma ... en mamma en pappa, ek voel so lekker weer, net omdat ek terug op Waboomskloof kan wees. Ek wil tog probeer môre ʼn entjie te gaan stap en vir Saronsberg waai. Kasper en Boela kan saam kom en dalk kan ek tot by Bella met die nuwe kruk loop!”

“Doen so my kind, ek gee die selfoon saam dan bel jy as ek moet kom.”

 

Die son kom op van Ceres se kant af oor die berge, dis die mooiste lentedag. Lydia is lankal op en aangetrek en Boela hardloop weer in sirkels toe hy die tekkies sien!

“Pappa en Mamma, hier gaan ons! Ek sal laat weet as dit sukkel. Sal net tot naby Bella loop en haar weer stout maak met die hanepoot natrossies!”

Sy stap stadig weg met die kruk, Boela sirkel vrolik terwyl Kasper al in die mik van die volgende perskeboom wag. Hy maau, “Kom julle ouens! As ek nog moet wag sal paar mossies les opsê!”

 

“Ag ou grootbek,” blaf Boela. “Klim af daar dat ek jou wys jong!”

Lydia lag vir die twee stouters, sy voel asof sy sweef. Hulle stap tot by die heiningdraad. Die hele trop staan en wei, net een kyk op en sy hardloop na die draad toe en sy mêê, “Kleinnooi!”

“Bella! My hanslammetjie!” Lydia hou haar styf vas. "Jy is so groot! Watse wolhaarstories vertel jy nou al weer jong?”

"Lydia, ek is die grootste ene hier en het tog ʼn kêrel. Dis daai ou wat daar eenkant staan met die lang horings en ek gaan ʼn lammetjie kry!"

 

Sy sit op ʼn groot klip. Sy is so gelukkig, Waboomskloof se ysterklipkoppies, die berge en die rivier, dit is so mooi … en toe, toe begin alles draai voor haar, die mooi versmelt tot ʼn iets anders. Sy lag weer en prewel saggies, “My dieremaatjies, ek sien die Hemel …”

 

“Pieter dit raak nou lank jong, kom ons gaan kyk maar want sy antwoord nie die foon nie.”

Pieter en Annemarie stap vinnig na Bella, sy kyk af na haar kleinnooi ... voor die dogtertjie lyfie is Kasper opgekrul en agter haar rug styf teen haar is Boela ...

 

Die keer so anders, Kasper en Boela kyk net na haar en hul se sterte is styf in getrek …


***



Om stories te skryf is so wonderlik vir die hart ... meer van dit is hier.

Tuisblad


Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog